Geskryf deur Laurinda Booyse
Februarie- en Maartmaand is die waarde op die voorpunt van ons tonge by Goedehoop, LIEFDE!
God het ons so liefgehad dat Hy sy enigste seun vir ons gegee het en juis daarom moet ons ook ons liefde teenoor mekaar wys. 1 Korintiërs 13 herinner ons aan wat is liefde…dit is vriendelik, geduldig, dit soek nie eie belang nie, dit verdra alles en nog meer belangrik…hou nie boek van die kwaad nie. As God se liefde vir ons daagliks dit is, wie is ons dan om dit nie ook vir mekaar te wees nie. ‘n Man teenoor sy vrou; ‘n ma teenoor haar kind en een maat teenoor ‘n ander. God vra mos ons moet Sy voorbeeld volg.
Liefde is een van die sterkste emosies wat ons as mense kan ervaar. Niemand anders sal liefde voel soos jy dit voel nie. Aangesien liefde ‘n emosie is, is dit persoonlik en jou persepsie van liefde sal grootliks bepaal hoe jy dit wil hê en ook hoe jy dit gee. Dink bietjie aan al die sprokiesverhale as kind…dit is dalk die idee waarmee jy grootgeword het net om te besef dat nie alle prinse/prinsesse perfek is nie en dat mense, al is hulle lief vir mekaar, mekaar soms seermaak, dan is ons baie teleurgesteld en ons verloor hoop in liefde. Liefde is nie net ‘n emosies nie, dit is ‘n daad, ‘n noodsaaklikheid.
Psalm 127 noem dat kinders geskenke aan ons is reguit van God af. Die lewe is ‘n gejaag en ons voel ons is lief vir ons kinders, deur al daardie gejaag, maar is dit wat hulle voel? Onthou, iets wat dalk nie vir jou baie beteken nie kan die wêreld vir iemand anders beteken.
Wyses waarop jy jou liefde vir ander prakties kan wys:
- Aanraking – druk daai kinderlyfie van jou ekstra styf vas wanneer hul van die skool af kom en gee daai derde soentjie op die voorkop voor slaaptyd.
- Koesterende woorde – prys jou kind vir daardie beste poging om tussen die lyne in te kleur. “Mamma is trots is jou, jou beste is genoeg.”
- Kwaliteittyd – “Boeta dit was ‘n mal dag by die werk vir pappa, maar kom ons gaan skop vir 15 minute bietjie bal buite.”
- Diensbaarheid – “My vrou, kom ek kry die kinders vanaand deur die bad terwyl jy kosmaak.”
- Geskenke – “Welgedaan seun, so goeie rapport verdien ‘n nuwe boksie lego.”
So wat is liefde dan…..dis BAR ONE:
Bemin mekaar.
Aanvaar mekaar.
Respekteer mekaar.
Dan is jy EEN met mekaar en EEN met God se wil.
Deel hierdie artikel: