By Laerskool Goedehoop glo ons dat elke kind die vermoë het om met selfvertroue te leer lees. Daarom gebruik ons in Graad 1 die SIKLO-leesstyl om ons maatjies op ’n prettige, gestruktureerde en betekenisvolle manier aan klanke, woorde en lees bekend te stel.
Die SIKLO-leesstyl fokus daarop om kinders eers die klanke van taal goed te laat verstaan en hoor voordat hulle begin lees. Hierdie proses help leerders om klanke te herken, saam te voeg en later makliker woorde te lees en te spel. Navorsing wys dat fonemiese bewustheid – die vermoë om klanke in woorde te hoor, te identifiseer en te spel, soos om te weet dat “kat” uit drie klanke bestaan: /k/, /a/ en /t/) – een van die belangrikste boustene van suksesvolle leesontwikkeling is.

Wat maak die SIKLO-leesstyl so waardevol?
• Kinders leer lees op ’n natuurlike en verstaanbare manier.
• Dit bou selfvertroue omdat leerders vinnig sukses ervaar.
• Die fokus op klanke help met spelling én leesbegrip.
• Leerders ontwikkel ’n liefde vir lees deur aktiewe deelname, beweging en herhaling.
• Dit ondersteun kinders met verskillende leerstyle en tempo’s.
Studies toon dat kinders wat reeds vroeg sterk fonemiese bewustheidsvaardighede ontwikkel, makliker leer lees, beter begrip toon en meer akkuraat spel.
Ons Graad 1-klaskamers is ruimtes waar leer lekker is. Deur die SIKLO-leesstyl word klanke nie net “geleer” nie – dit word beleef deur stories, beweging, gesprekke, herhaling en spel. Ons doel is om elke maatjie toe te rus met ’n sterk leesfondasie wat hulle vir die res van hul skoolloopbaan sal dra.
By Goedehoop verstaan ons dat lees nie net oor woorde gaan nie; dit gaan oor begrip, selfvertroue en die oopmaak van ’n wêreld vol moontlikhede.
Ons sien daarna uit om saam met u en u kind hierdie wonderlike leesreis aan te pak.

