Dankbaarheid Te Midde van die Storm
Uit Mnr Gawie se Pen…
Ek is van mening dat ons soms vergeet wat ons het. Ons as mens is lief om te kla, ons is baie gewoond daaraan om dinge op ‘n spesifieke manier te laat gebeur en wanneer dit nie by ons gemak pas nie, kla ons daaroor. Hierdie sienswyse is egter nie baie gesond nie, ons ontneem onsself van veerkragtigheid wanneer moeilke situasies hom voordoen. Soms gebeur daar gebeurtenisse wat ons net weer laat besef hoe bevoorreg ons is.
Ons sien in die media die verwoesting van die storms in die Kaap, ons sien die videos van die Gamtoosvallei en kan nie anders as om die mense van die omgewing jammer te kry nie. Wat ons soms nie besef nie, is dat hierdie dalk nie die eerste ramp is wat die mense tref nie. Voorafgaande rampe mag daar dalk gewees het, droogte of bek-en-klouseeer onder die vee. Dink uself in, vir 2 jaar het ek ‘n misoes as gevolg van geen reën, my beeste dra dan my boerdery, dan kom bek-en-klouseer. Uiteindelik kom daar reën en ek sien uit na ‘n goeie oes, die beeste wat my boerdery gedra het, kan ek nie verkoop nie. Daarna kom die storm en oorstromings, na jare se swaarkry kom hierdie ook.
Onwillekeurig dink ons aan Habakuk wat skryf in Habakuk 3:17 tot 19, al sou die vyeboom nie bot nie, geen druiwe aan die wingerde wees nie, die lande geen oes lewer nie, geen kleinvee in die kampe, beeskrale sonder beeste, sal ons nog kan juig en jubel? Kan ons soos Jeremia sê, ten spyte van al hierdie ontberings, deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie?
Wanneer ek hierdie omstandighede aanskou, wil ek dan nogsteeds kla oor my eie omstandighede? Baie keer besef ek dan ek is eintlik beter af as baie ander mense. Dit kan ook wees dat my omstandighede regtig erg is, in so ‘n geval is dit moeilik maar ek moet onthou, ‘n storm het altyd ‘n einde. Om die skade na die storm te herstel neem tyd maar ons het geen keuse nie, ons moet herstel.
Paulus skryf in 1 Tessalonisense 5:16 tot 19: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.” D ie Here sê, wees in alle omstandighede dankbaar, dit wil sê, goeie en slegte tye. Kom ons maak vandag ‘n punt daarvan om dankbaar te wees. Kom ons besef daar is baie ander mense wat in baie moeiliker omstandighede as ons is. Ons moet ook bid dat die Here die oë van ons harte sal oopmaak om ander se nood rondom ons raak te sien en moet bemoedig waar ons kan. Die wonderlike van hierdie is, wanneer ons ander se nood sien en vir hulle intree word ons beter, ontvang ons krag om ons eie omstandighede beter te kan hanteer.
Handelinge 1:8: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Ons het reeds die geskenk, gaan uit en gebruik die krag om in dankbaarheid ander te bemoedig, want dit is wat God in Christus Jesus van ons verwag. Klik gerus op die volgende skakel en word weer herinner aan God se guns oor ons.

