– Naskoolsentrum –
HOE WERK DIT?
Goedehoop Nasorgsentrum is geleë op Laerskool Goedehoop se terrein met Me. Nelda Olivier aan die stuur. Ouers laai die Gr 000-, 00-, 0- en 1-maatjies by hul betrokke terrein af en gaan haal hulle weer in die middag daar. Graad 000 – 0 word gedurende die middag vermaak met buitespel, aktiwiteite in die klas, groepspeletjies, bak en brou ens. Indien daar enige aktiwiteite is waaraan kleinding deelneem, word hulle deur ‘n personeellid vergesel en weer na afloop van die aktiwiteit gaan haal.
Graad 1 tot 7 het studietyd vanaf 14:00 tot 15:30. Leerlinge word in graad-verband in klasse ingedeel waar hulle huiswerk doen. Vir diegene wat aan aktiwiteite deelneem, is daar ‘n spesiale huiswerkklas tot 16:30. Hulp word aan leerlinge verleen tydens eksamentyd. Wanneer hul huiswerk klaar is, kan leerlinge lekker buite onder toesig speel.
Juffrou Nelda
Ek het gematrikuleer aan die Hoërskool Elllisras in 1976. Dit was nog altyd my begeerte om eendag ‘n “juffrou” te word en daarom het ek besluit om onderwys te gaan studeer. Ek het in 1977 ingeskryf as ‘n student by die Normaal Kollege Pretoria (NKP) vir my THOD (4 jaar kursus) en dit voltooi in 1980. In 1981 het ons verhuis na Secunda. Mnr du Preez nader my in 1982 vir ‘n pos by Laerskool Goedehoop. Ek was so gelukkig om Wiskunde – een van my hoofvakke – by Goedehoop aan te bied. Met die uitbreiding van ons gesin het ek besluit om op te hou skool hou. Na ‘n geruime tyd by die huis, aanvaar ek weer ‘n pos by Strooijorsie Kleuterskool.
In 1996 adverteer Mnr. Ferreira die “blink gedagte” – ‘n Naskoolsentrum by Goedehoop. Ek was so bevoorreg om te slaag in my aansoek en in September 1996 open ek die naskool met 13 leerlinge. My twee dogters voltooi ook hul laerskoolloopbane by Goedehoop en ek help op gereelde aflosbasis uit. Met die Here se seën groei die Nasorgsentrum elke jaar en het my volle fokus verskuif na die Nasorgsentrum. Meer en meer personeel word aangestel en word daar later ook Graad 00- en 0-klassie oopgemaak. Ek is ook baie opgewonde om te sê dat ons in 2020 ook Graad 000 sal akkommodeer. My passie en liefde is verseker kinders en ek glo dit spreek uit die amper 23 jaar wat ek betrokke is by Goedehoop Nasorgsentrum.
Ek streef om my beste te gee vir elke kind en ouer wat betrokke is by die nasorg, sodat u as ouer met ‘n geruste hart kan werk en u kind veilig en geborge kan voel by ons. Ons werk nou saam met die personeel van Laerskool Goedehoop om altyd saam met hulle Godgerig, Kindgerig en Toekomsgerig te leef.