Laerskool Goedehoop
Posts by Charle Kuhlmann:
Gesonde kos vir ‘n goeie immuunsisteem
Saamgestel deur: Ilidia Lambrechts en Lila Oberholzer Geregistreerde Dieetkundiges – Augustus 2020
Alle skoolgaande kinders benodig ‘n gebalanseerde dieet vir optimale groei, ontwikkeling, konsentrasie, prestasievermoë en, veral nou met Covid-19, ‘n sterk immuniteit. Die grondslag van ‘n gesonde dieet word juis in die eerste paar jaar van ‘n kind se lewe gelê. Nutriënte wat jou kind nou inneem, het nie net ‘n korttermyneffek op die immuunsisteem nie, maar ook ‘n impak op langtermyn gesondheid.
Kry jou soldate reg!
Ons liggame se hoogs gespesialiseerde meganisme wat altyd teenwoordig is om ons te beskerm teen virusse en bakterieë word die immuunsisteem genoem.
Daar is verskeie faktore wat ons immuniteit beïnvloed. Ouderdom beïnvloed onder andere die tipe virusse en bakterieë waaraan ons immuunsisteem blootgestel word. Leefstylfaktore soos voeding, oefening en slaap, sowel as omgewingsfaktore soos die seisoen en die omgewing waarin jy leef beïnvloed ook jou immuniteit. As dieetkundiges stel ons veral belang in die leefstylfaktore wat mense se immuniteit beïnvloed aangesien dit ‘n faktor is waaroor ons ‘n mate van beheer het.
Vitamiene en minerale is saam essensiëel om liggaamsfunksies te onderhou. Dit speel ‘n belangrike rol in verskillende metaboliese prosesse vir beide gesondheid en voorkoming van siektes. Ons weet dat tekorte in sekere vitamienes en minerale ‘n definitiewe negatiewe effek op ons immuunsisteem het.
Hoe maak jy seker dat jou kind se immuunsisteem versterk word?
Die belangrikste om die immunsisteem te ondersteun, is om drie gebalanseerde maaltye per dag te eet met ‘n verskeidenheid kosse. Sluit een uit elke voedselgroep in vir ‘n gebalanseerde kosblik of bord kos.

Is dit nodig om mikro-nutriënte soos vitamien en mineraal aanvullings te neem?
Dit is altyd meer van waarde om goeie mikro-nutriënte met voedsel in te neem. Dan is dit NIE nodig vir ‘n ekstra multi-vitamien nie. Wanneer ‘n kind nie gebalanseerd eet nie, probeer eers om met die hulp van ‘n dieetkundige die eetgewoontes aan te spreek met ‘n geskikte eetplan. Soms is dit wel nodig dat die dieet inname aangevul word met ‘n multi-vitamien. Maar, navorsing hieroor het getoon dat indien geen tekorte van ‘n bepaalde vitamien of mineraal in die liggaam teenwoordig is nie, dit eerder nadelig kan wees om aanvullings in hoë dosisse, sowel as vir verlengde tydperke, in te neem.
Vir enige navrae, kontak Ilidia Lambrechts Dieetkundiges
Kamer 213 Medforum Gebou Secunda
Sel: 071 355 4635
Deel hierdie artikel:
Bar One Liefde
Geskryf deur Laurinda Booyse
Februarie- en Maartmaand is die waarde op die voorpunt van ons tonge by Goedehoop, LIEFDE!
God het ons so liefgehad dat Hy sy enigste seun vir ons gegee het en juis daarom moet ons ook ons liefde teenoor mekaar wys. 1 Korintiërs 13 herinner ons aan wat is liefde…dit is vriendelik, geduldig, dit soek nie eie belang nie, dit verdra alles en nog meer belangrik…hou nie boek van die kwaad nie. As God se liefde vir ons daagliks dit is, wie is ons dan om dit nie ook vir mekaar te wees nie. ‘n Man teenoor sy vrou; ‘n ma teenoor haar kind en een maat teenoor ‘n ander. God vra mos ons moet Sy voorbeeld volg.
Liefde is een van die sterkste emosies wat ons as mense kan ervaar. Niemand anders sal liefde voel soos jy dit voel nie. Aangesien liefde ‘n emosie is, is dit persoonlik en jou persepsie van liefde sal grootliks bepaal hoe jy dit wil hê en ook hoe jy dit gee. Dink bietjie aan al die sprokiesverhale as kind…dit is dalk die idee waarmee jy grootgeword het net om te besef dat nie alle prinse/prinsesse perfek is nie en dat mense, al is hulle lief vir mekaar, mekaar soms seermaak, dan is ons baie teleurgesteld en ons verloor hoop in liefde. Liefde is nie net ‘n emosies nie, dit is ‘n daad, ‘n noodsaaklikheid.
Psalm 127 noem dat kinders geskenke aan ons is reguit van God af. Die lewe is ‘n gejaag en ons voel ons is lief vir ons kinders, deur al daardie gejaag, maar is dit wat hulle voel? Onthou, iets wat dalk nie vir jou baie beteken nie kan die wêreld vir iemand anders beteken.
Wyses waarop jy jou liefde vir ander prakties kan wys:
- Aanraking – druk daai kinderlyfie van jou ekstra styf vas wanneer hul van die skool af kom en gee daai derde soentjie op die voorkop voor slaaptyd.
- Koesterende woorde – prys jou kind vir daardie beste poging om tussen die lyne in te kleur. “Mamma is trots is jou, jou beste is genoeg.”
- Kwaliteittyd – “Boeta dit was ‘n mal dag by die werk vir pappa, maar kom ons gaan skop vir 15 minute bietjie bal buite.”
- Diensbaarheid – “My vrou, kom ek kry die kinders vanaand deur die bad terwyl jy kosmaak.”
- Geskenke – “Welgedaan seun, so goeie rapport verdien ‘n nuwe boksie lego.”
So wat is liefde dan…..dis BAR ONE:
Bemin mekaar.
Aanvaar mekaar.
Respekteer mekaar.
Dan is jy EEN met mekaar en EEN met God se wil.
Deel hierdie artikel:
Trek aan die baadjie van verantwoordelikheid
Geskryf deur: Ilze Ferguson
‘n Mens se agtergrond en opvoeding dra by tot wie ons is, mààr wat ons word is ons eie verantwoordelikheid.
Die kleur blou verteenwoordig verantwoordelikheid, selfbeheersing, keuses en besluite.
Verantwoordelikheid is die verpligting wat op ons skouers rus, om ’n gegewe taak wat aan ons toevertrou en opgedra is na die beste van ons vermoë uit te voer, of te verseker dat die taak voltooi is. Verantwoordelikheid is die verpligting om rekenskap te kan gee. Mense wat verantwoordelik is, is betroubaar.
Wat gaan gepaard met verantwoordelikheid?
- Hou myself en my omgewing skoon en netjies.
- Wees betyds.
- Wees verantwoordelik vir ons dade.
- Dink voor ons doen.
- Doen ons plig as ouers, vriend/vriendin, maatjie, kollegas en as mense.
- Wees verantwoordelik vir ons woorde.
- Pas ons besittings op al is dit net aardse dinge.
- Wees verantwoordelik vir ons eie geluk.
- Wees ‘n voorbeeld vir ander en stel die standaard.
- Volg jou innerlike wysheid.
- Dit is ons verantwoordelikheid om die regte ding te doen al is dit teenstrydig met die druk wat somtyds deur die samelewing na ons kant toe gegooi word.
Soveel meer wat ons kan doen om verantwoordelik te kan wees.
Daar is nie een spesifieke ouderdom wanneer mens veranwoordelik raak nie, mens leer dit geleidelik aan, maar ‘n kind se vermoë om met ander saam te werk begin wanneer hulle omtrent vyftien maande oud is en teen agtien maande wil hul graag help om dinge te doen. Laat hulle toe om behulpsaam te wees want dit is deel van verantwoordelikheid. Dit is belangrik om goeie gedrag soos verantwoordelikheid te prys en erkenning te gee want dit beteken baie vir ‘n kind en soms vir grootmense ook. Party ouers dink die kinders is so besig met huiswerk dat daar nie tyd is om vir hulle takies te gee om af te handel nie, maar kinders wat takies het om te doen sal waarskynlik beter doen op skool omdat hulle leer om toewysings te aanvaar en te voltooi.
In Hebreërs 10:24-25 sê die woord: “Die liggaam van Christus is afhanklik van mekaar en elkeen van ons het ‘n plig en verantwoordelikheid om mekaar op te bou.” Jakobus verwys ook na verantwoordelikheid as hy sê: “bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word as mens”.
God se opdrag rondom verantwoordelikheid gaan nie net oor diè wat in staat is om verantwoordelik te wees nie, maar dit gaan juis daaroor dat ons verantwoordelikheid sal deel aan hulle wat dit die meeste nodig het.
Verantwoordelikheid het groot waarde in die geveg om sonde te oorwin. Verantwoordelike mense kan daar wees om ons te bemoedig en te oortuig om verantwoordelik te wees. Kom ons vra onsself, hoe lyk die baadjie wat ons aantrek? Is dit vol geborduur met dinge soos verantwoordelikheid teenoor ons Liewe Vader, teenoor ander en teenoor ons lewens? Kan mens die pêrels van verantwoordelikheid in ons lewens sien skitter? Trek aan die baadjie net soos ons die wapenrusting van God moet aantrek en wees verantwoordelik.
V – vasbyt
E – ervaar
R – regverdig
A – aanhou
N – netheid
T – tevrede
W – woorde
O – ons
O – oorwin
R – raad
D – deelname
E – eerlik
L – leer
I – inspireer
K – keuses
H – hoop
E – ek
I – integriteit
D – dankbaarheid
Deel hierdie artikel:
As jy kan lees, kan jy presteer!
Geskryf deur Juanita Fourie
Honderd-en-veertig karakters, dit is al wat jy nodig het om jouself verstaanbaar te maak in die tegnologiese wêreld van vandag. Skokkend as jy in berekening bring dat die Afrikaanse HAT 2,1 miljoen woorde bevat! Wanneer na hierdie getalle gekyk word verbaas die statistiek van die PIRL-studie glad nie. In 2016 het hierdie studie bepaal dat 8 uit 10 Graad 4’s glad nie met begrip kan lees nie. Hierdie lae syfers plaas Suid-Afrika laaste op die lys van 50 deelnemende lande.
Wat beteken dit dan as jou kind nie met begrip kan lees nie? Dit beteken dat wanneer ‘n kind ‘n betrokke stuk lees hulle die woorde kan uitspreek, selfs vlot lees, maar wanneer daar na die tyd vrae gevra word kan hulle dit nie beantwoord nie omdat hulle nie kan onthou waaroor die betrokke leesstuk gegaan het nie. Dit word veral waargeneem wanneer begripstoetse geskryf word. ‘n Begripstoets moet met begrip gelees word om die vrae voldoende te kan beantwoord. Wetenskaplikes kon onlangs eers bewys dat kinders wat sukkel om met begrip te lees nie ‘n geheue het wat optimaal funksioneer nie. ‘n Probleem wat aangespreek en opgelos kan word.
Lees maak die wêreld vir ‘n kind oop! Saam met Harry Potter verslaan hulle vir Voldemort, vlieg saam met Peter Pan deur die sterrehemel en vaar op avonture saam met Kaptein Hook. Tussen die bladsye van ‘n boek lê ‘n towerwêreld wat wag om besoek te word. Die realiteit is dat wanneer kleinding lees hul woordeskat uitgebrei word, hul verbeelding verbreed en hulle leer hoe om te kommunikeer.
In 2005 het Goedehoop se eerste leeslaboratorium sy deure oopgemaak. Leerders vanaf Graad 4 tot 7 het vir die eerste keer die geleentheid gekry om deur middel van Reading Rocket, wat deur Stimulus Maksima onderskryf word, op hul eie tempo met begrip te lees en te vorder. Aan die einde van elke kwartaal het die ouer ‘n rapport gekry wat volledig verslag doen oor die vordering en stand van die kind se leesbegrip. Daar was duidelike verbetering in kinders se punte in alle vakke. Hoekom? Want die kinders het geleer hoe om met begrip te lees en kon die vrae beantwoord. Selfs in vakke soos Wiskunde was vordering sigbaar, want die vrae kon met begrip gelees en korrek beantwoord word.
Vir kleinding vanaf Graad 1 tot 3 word die Cami-program gebruik. Cami fokus op perseptuele vaardighede en kom in die volgende vorme van leer voor: visuele persepsie, ouditiewe diskriminasie, ouditiewe geheue, hand-oog-koördinasie, dominansie, kruising van die middellyn, voorgrond-agtergrond, vorm persepsie en ruimtelike persepsie. Ook hulle kry kwartaalliks ‘n rapport wat hul vordering aandui. Die Graad 0’e kry die geleentheid om op Seewêreld hul vaardighede te ontwikkel en hulle doen dit speel-speel. Wonderlik hoe tegnologie gebruik kan word om by ons kinders ‘n liefde vir lees te kweek, sonder dat hulle dit besef.
2019 het begin en saam met die nuwe jaar maak Goedehoop se tweede rekenaarsentrum sy deure oop! In die verlede kon leerlinge slegs elke twee weke die geleentheid kry om die rekenaarsentrum te besoek. Met die opening van die tweede sentrum kan leerlinge nou die geleentheid kry om weekliks, in beide Afrikaans en Engels, hul leesvernuf op te skerp. Wat die tweede sentrum nog meer spesiaal maak is dat dit ingerig is vir die kleiner maatjie, Graad 0 tot 3, met laer tafels en kleiner stoeltjies sodat hul gemaklik die muis en skerm kan maneuver.
Soveel inligting aan die punte van hul vingers – of dit nou via die internet is of die ou staatmaker, boeke! Dit maak nie saak op watter manier gelees word nie, lees verbreed jou kennis en gee kinders die selfvertroue om opstelle te skryf, mondeling met gemak voor te berei en hul sê te sê.
Deel hierdie artikel:

